Search This Blog

Thursday, May 16, 2013

'n Iveco om Afrika mee te tem


Published in Beeld 9 Mei:
Die bekendstelling van die nuwe Iveco Daily 4x4 die mark vir hardebaard viertrekvoertuie in rep in roer. Want tot nou was daar net twee viertrekvoertuie wat rerig Afrika-bestand is ‒ die Land Cruiser en die Unimog. 

Die nuwe viertek Daily kan op enige onbegonne plek netjies tussen die twee onstuitbare waens parkeer, maar dra ’n swaarder loonvrag as die Cruiser en verkoop teen ‘n derde van die magtige ’mog se prys.
Beeld/Burger/Volksblad het die nuwe Daily 4x4 oor die Magaliesrante beproef en alhoewel die ’taljaanse trokkie nie oral sal klim en swem waar die grootter ’mog kan klouter en waad nie, sal veral mynkonrakteurs en bosbouers bly wees om te hoor die dubbelkajuit Daily kom met rukstopgordels vir sewe mense, ’n sleepvrag van 3.5 ton en pryse wat die Unimog ver agter los.
Voor belasting kos die Daily 4x4 enkeljauit onderstel R556,450; en die dubbelkajuit onderstel R577,450. Die pryse is so billik dat kopers die eerste 40 Daily 4x4 modelle sommer ongesiens van die skip af bestel het.
Die Daily 4x4 kom met 24 ratverhoudings, 12 vir vinniger ry, en 12 vir swaar trek. ‘n Tweede rathefboom hak die ses-gang ratkas in een van vier ratios: hoog, middel, laag en kruiprat. Hoog loop klopdisselboom teen 110km/h op teer. Middel-strek laat ‘n topsnelheid van 90km/h toe en is vir grond paaie bedoel. Lae-strek is ontwerp om aan te hou waar tweespoor paadjies ophou. Kruiprat is vir wanner mens Basutho ponies op ‘n Maluti-piek moet red. ’n Ry groot knoppe op die paneelbord druk maklik met selfs dik handskoene om enige van die ewenaarslotte op albei aste, of die elektroniese oordragkas te sluit.
Die knoppe is vir handskoene ontwerp, want in Europa, waar Iveco die derde-grootste trokverkoper is, is die Daily 4x4 op mense gemik wat in erge koue met hidrouliese toerusting moet werk. Vir hulle bied die Daily 4x4 vyf kragaftapunte op die Daily se ratkas en oordragkas om hidrouliese pompe of kardanaste te draai. Die kragaftapstelsel kom met ‘n 110 aH battery en ‘n 120 A of 140 A omsetter, wat maklik aan meeste hidrouliese toestelle koppel. Die voor as het ook sterk hegpunte om ‘n sneeuploeg aan vas te bout.
Die oordragkas verdeel die Daily se 350 Nm ingeperkte wrinkrag sodat amper ‘n derde van die Newton meters (32%) die wa deur die voor-as trek, wyl 238 Nm van agter af stoot. Die krag word opgewek deur ‘n hoëdruk, 3,0-liter, 16-klep diesel enjin wat twee in-lyn turbos gebruik om ‘n konstante 350 Nm tussen 1,400 en 2,600 rpm te lewer.
In die ou taal het die Daily 4x4 150 Ingilse hingste wat die klein viertrek trokkie teen 3,500 rpm laat hardloop.  Uit Doer Onder, waar die Daily 4x4 laasjaar bekendgestel was,  bleik dit die span perde drink boonop minder diesel as meeste 4x4 bakkies op ‘n galop. Allan Whiting, Outback Travel Australia se toeroperateur, berig dat hy teen 110 km/h met die toerenaald mooi op 2500 tussen sewe tot 8,6 km uit elke liter kry. SA toeroperateurs sal egter ‘n ekstra dieseltenk wil byvoeg, want standaard dra die Daily 4x4 net 90 liter diesel. Dit gee ’n reikafstand van sowat 630 km op die oop pad op die standaard 255/100 R16 bande.
Die lewendige as-stelsel verplaas die wiele verder as wat ’n Unimog kan doen, terwyl tot vier paraboliese bladvere agter en drie bladvere voor saam met teleskopiese gas dempers en teenkantel stawe keer dat die vrag en passasiers te veel oor die klippe skud. Albei kajuitvorms sleep ‘n 3.5 ton geremde wa en afhangende van die laaibak se gewig, dra albei kajuitvorms tipies meer as 1,5 ton loonvrag. Remkrag word verskaf deur 297m skywe voor en dromremme agter. Om korter stopafstande op grond en modder te lewer, sit die ABS outomaties af as enige van die drie ewenaarslotte aangesit is.
Die Daily skrik ook nie vir ‘n halwe meter bruisende rivierwater nie. Met die standaard uitlaatsteslsel is die waaddiepte 66 cm. ‘n Snorkel sit nog 40 cm by. ‘n Druk van knop Nommer Een sluit die oordragkas sodat al vier wiele in kruiprat saam draai, wat keer dat die voorste bande tol wanneer al die gewig teen ‘n 51-grade invalshoek op die agteras gaan rus. Soos in die Unimog is die kruipratverhouding 100:1, wat tot drie keer meer krag op die dryafste plaas as wat ‘n gemiddelde 4x4 bakkie doen.
Die erge wringkrag op die dryfaste is dan ook hoekom Iveco die enjin tot 350 Nm ingeperk het. Meer wringkrag sal baie dikker ysters vereis om te keer dat die dryaste afdraai, wat die Daily 4x4 swaarder sal maak. Soos dinge staan weeg die enkelkajuit op sy leerraam onderstel 2,515 kg.
Iveco Suid-Afrika se nuwe besturende direkteur, Bob Lowden, het sy verkoopspan gevra om meer as 300 modelle van die Daily 4x4 te verkoop. Al het kopers ‘n EC1 (ou kode 10) liksens nodig om die wa te bestuur, voorspel ons daar gaan baie meer van die viertrek lorrietjie op onbegonne plekke in suider-Afrika gesien word.