Search This Blog

Sunday, March 30, 2014

Die ou en die nuwe 2-reeks

Nie baie ouens kan spog hulle pa se foto hang in Loftus Versveld se voorportaal nie.
Myne s’n se gesig hang wel op daai mure, naby die 1970 Sportfoto van die Jaar – die ene wat wys hoe Frik Du Preez soos Superman vlieg met die kop van All Black skrumskakel Chris Laidlaw liggies teen sy enorme vuis geplak.
In daai dae moes provinsiale spelers wat die Bok span wou maak, na werk op eie koste honderde kilometers ver ry om by oefeninge en wedstryde uit te kom.

Met die tyd altyd min, het my vaar ’n vinnige kar gesoek om die mede voorrye betyds langs die veld te kry. So koop hy vir hom toe in 1973 ’n BMW 2002 uit die boks.
Dit was die goedkoper ene, sonder die turbo, sou ek latere jare uitvind, maar so groot was die impak van daai Baviara model op my ses-jarige self dat ek dekades later nog steeds oor karre skryf. Selfs sonder ’n turbo het die 2002 soos die wind gery, met ’n agt-baan kasset speler waarop toe-se treffers soos “Angie” en “Smoke on the Waters” gebasuin kon word.
Waar dit als vir my begin het, die 1973 BMW 2002.

Ruimte toe en nou

Al probleem was dat die 2002 te beknop was vir vier voorspelers om gelyktydig diep in te asem vir die koor gedeelte van “Angie, ooooh Angie-heeee!”. So gebeur dit dat die 2002 net een week op die werf staan en die volgende week was daar ’n Datsun 2400 in sy plek. Die Japanees had klein leesliggies in die C-pillaar en — belangriker, genoeg plek vir manne wat nommer 13 tokse dra om op die agtersitplekke ’n koor te maak, maar niks van die 2002 se betowering nie.
Die legendariese spelers van daardie jare sal vandag met gemak pas in die jongste 2-Reeks koepee wat BMW laasweek in KZN bekendgestel het.
Die nuwe 2-Reeks is op die ou 1-Reeks koepee gebaseer; maar die 4,4-meter-lange 2-Reeks is ’n dameshandbreedte langer (7,2 centimeter) en het plek vir die jonger Bok spelers se baldadige haarstyle voor (6 mm hoër) met ’n geswolle knieskyf se ekstra beenruimte agter (2,1 centimeter). Die kattebak sluk 390 litres, groot genoeg vir al agt in die skrum se toksakke. 

Verrigting

Daai ou BMW 2002 had ’n maase turbo wat tussen 4500 en 4505 toere jou nek kortstondig afgeruk het. In my keuse onder die 20 nuwe 2-Reeks modelle, die 2,0 diesel, maak BMW se dubbel turbos egter deesdae gladweg 350 Nm tussen 1,250 en 4,800 toere, met die piek kraglewering van 180 kW tussen 5,000 ene 6,500 toere. Was dit nie vir die slaggate nie, kan jy met sulke gladde kraglewering jou koeldrank op die paneelbord in die ry balanseer sonder om ‘n drubbel te mors.

Hantering

BMW 235i around Dezzi's.
In die 34-blad bemarkingsmanifes wat die nuwe 2-Reeks vergesel, vertel BMW hul unieke reeks stabiliteitsbeheerfunksies maak die nuwe koepee “sportief, veilig en presies beheerbaar”.
Om dit te bewys het BMW ’n klomp motorjoernaliste in ’n M235i sesgang-handrat om Dezzi Gutzeit’s se renbaan net buite Port Shepstone laat jaag. Einste baan het Saterdag ook die tweede been van die nasionale sywaartse renkampioenskappe gehuisves en uit respek vir die blinde bulte waaroor Gutzeit sy baan geskraap het, noem die sywaartse jaers die plek die “Roller Coaster”.
’n Baan vir hardebaard renjaers dus, nie die soort plek waar mens sommer groentjies met jou halfmilioen rand motor vertrou nie. Maar die ses dinamiese veiligheidstelsels in BMW se nuwe 2-Reeks mag maar. Met die knoppies als aan, laat die M235i nie toe dat mens om die haarnaalde uit talent hardloop nie en om die veegdraaie laat die koepee selfs ’n trokdrywer soos ek amper vinnig lyk. (Maar sit nou daai knoppies af en kyk hoe vinnig word die baan baie te klein.)

Pryse

Die twintig 2-Reeks koepee modelle (nege elk vir die 220i en 220d, en drie vir die M235i) begin by R378,257 vir die intreevlak 220i ses-gang handrat en gaan dan vinnig op tot by R538,346 vir die top model M235i met die automatiese agt-spoed steptronic ratkas. (Dis nou sonder enige ekstras wat maklik R20,000 per item bylas.)
Met die bekendstelling het ons net die M235i handrat gejaag, maar uit my ervaring met die Biemers, meen ek die 220d met die automatiese agt-spoed steptronic ratkas sal teen R424 000 al my knoppies op presies die regte plekke druk.
En wie sê die Biemers verloor vinnig waarde? As my vaar destyds die skaarser 1973 BMW 2002 turbo gekoop het en op blokke gesit het, in plaas van om dit op die Datsun in te ruil, sou hy dit vandag vir ’n paar honderd rand minder as ’n 2014-model BMW 220i kon verkoop. Selfs die 1973 BMW 2002 sonder ’n turbo verkoop tans vir R100k by veteraanmotorveilings.

Beginnersgids vir BMW se nuwe reeksnommers

Vir diegene wat nog steeds wonder wat gaan in die BMW stal aan, onthou dis nie meer die enjin se grootte wat op die kattebak aangedui word nie, maar die motor se verrigtingsindeks. Beeld se BMW beginnersgids verduidelik hoe die modelle na dese gerangskik word:
1-Reeks: drie en vyf-deur luikrug modelle
2-Reeks: twee deur koepee
2-Reeks Active Tourer: vyf-deur, vierwiel-gedrewe luikrug
3-Reeks: vier-deur sedan
3-Reeks Touring: vyf-deur stasiewa
3-Reeks Gran Turismo: vyf-deur sportnuts/sedan kombinasie
4-Reeks: twee-deur koepee
4-Reeks Gran Coupe: vier-deur met koepee stylering
5-Reeks: vier-deur sedan
5-Reeks Touring: vyf-deur stasiewa
5-Reeks Gran Turismo: vyf-deur SUV/sedan kombinasie
6-Reeks: twee-deur koepee
6-Reeks Gran Coupe: vier-deur met kopee stylering
7-Reeks: vier-deur luukse sedan
Z4: twee-deur coupe aflsaandak sportmotor
X1: vyf-deur klein sportnuts
X3: vyf-deur middeslag sportnuts
X5: vyf-deur groot sportnutswa
X6: vyf-deur sportnutswa met koepee stylering
i3: vyf-deur vol-elektriese motor
i8: twee-deur hibriede sportsmotor


.../einde