Hy is nie seker nie, want “kwaai baie van daai somegs was wintegs menee’ en assie koue eegs in mens se mugh gat sit, is dgank al wat jelp.”
Hy bly ‘n ruk stil en kyk skuins na my. “En soos menee’ weet, blou tgein makat mens baie goete v’geet.”
‘n Koue, digte mis het juis toegeslaan toe ek Marius net buite Belfast optel. Sy brei kom uit Malmesbury en sy naels is swart. Maar agter die plooiskrefies is sy oë hemelblou en as hy skugter glimlag, flits hy ‘n stel perfekte vals tande.
“Ma’ my biffday maki saki menee’. Die nomme’ wat tel is la’k nou al 12 jaag dgoog is. Weer flits die tande. “Magh ek bly altyd hun alkie!”
Ek vra hom hoekom oorwinter hy nie in Durban soos baie boemelaars mos maak nie? Die vriendelike skrefies word ‘n frons. “Ek issie ‘n boemelaghee. Ek wegk hagt! Ek het dan TWIE loopbane.”
Ek vra verskoning as ek aanstoot gegee het en vra – versigtiger diekeer – wat is sy loopbane dan?
“Hierdie ennfô.” Hy knik sy ken in die algemene rigting van die vooruit.
“Dis myne. Ek loop hom bouf saaids elke week, wanneeg die son laag agteg hang lat ek my goet ka’ sien blink.”
Ek hak derde bo op die bult en sit die dawerende lugrem aan. Berg en Dal se steilte breek baie trokke en ek wil nie wéér teen een in die digte mis bots nie. Met my aandag op die pad vra of al die geloop darem ’n goeie lewe maak.
Woordeloos haal hy ‘n GPS uit sy groot ou army jas se sak en sit die op die trok se paneelbord neer. Dis ‘n Garmin Navigator, ‘n nuwerige model. ‘n Flits “wat sondegh batgies werk” is volgende. Dan ‘n solar-paneeltjie om ‘n selfoon mee te laai, kabel en al. Laaste is ‘n plat blikkie vol lang stompies.
Hy knik weer sy ken. “Daai het ek als vanjaagh opgetel. Dis nou myne.”
Dis kyk na die duisende rande se elekronika wat ek nie met my trokdrywersfooi kan koop nie. “En jy’t dit als langs die pad gekry!?” vra ek met nuwe respek.
“Jip.” Hy maak die blikkie oop. “Klege ook, baie bgaas. Ek wassit en ve’koopit inni townships. Dê.” Hy leun oor met die blik stompies. “Die sighêts is netti beste. Me’se wat Camels smouk maaintie om jelfte weg te moeghi, dissie ouks met die tjiepies wat tot oppi filte’ gook.”
Ek kies ‘n kwartgerookte stompie en trek die nikotien se lafenis diep in. Ons kruie ‘n ruk in met die stilte bult af met die vensters half oop. Marius draai die verwamer op en sit behaaglk terug.
“Janee, ek maak nou ‘n lekke lewe menee. Hiegie ennfô is nessie see. Hy gooi elke dag ietsie niets oppi kant. En as jy kan gaakvang, is optelgoed mos vatgoed.”