Search This Blog

Monday, January 7, 2013

Scooter rider on dicing God, and losing

The City Hall in Pietermaritzburg is the
biggest red brick building in South Africa, and
during the storm of Sunday, 6 Jan 2013, also the
only one with a waterfall.

Staan ek gister skuins voor 5 oppad nagskof toe so voor die g'rudge deur met die Clio se sleutel in een hand en die skoeter s'n in die ander die swaar onweerswolke en kyk en ek dag, "vanaand  gaan ek net bietjie die Jirre met my skoeter daais".
En ek was goed voor, tot doer by die historiese Pmb stadsaal, toe die Jirre sy teekoppie neersit en begin saam daais.
Eers begin hy blaas.
Maar ek sien Hom kom en gaan skuil saam met die ander Zulu's op die stoep voor Mohammeds cellphone repairs and airtime. Sonder die apostrofie ja.
Toe gooi hy water. Uit alle rigtings. 45ml in 30 minute. Die lug was een soliede sopnat, ek lieg nie. Maar die Zulus en ek staan lekker diep en worry nie.
Toe seg Hy seker iets vir 'n engel want toe begin daai wind boos waai sodat dit sommer voel dit reën nou direk van onder af uit die sypaadjie, sodat die Zulus en ek gou soos nat hoenders daar uitsien.
"Mohammeds cellphone repairs and airtime" se advertensiebord het eerste afgewaai. Die ander het gelyk met die dak aan hulle kettings gerek.
Maar toe ek nog nie skrik nie, pluk daai engel mos sy moer en waai hy sommer my 127-kg sware skoeter ook om. Jip. Daar op die sypaadjie, onder dak, teen 'n muur.
Intussen sous dit so, oorkant ons kry die stadsaal 'n nuwe klym toe fym.
Dit was eers die grootste rooi-baksteen gebou in SA, maar na laasnag is dit ook die grootste rooi-baksteen gebou in SA met die grootste waterval in die wêreld.
Toe die lug nie meer soos 'n regop oseaan sonder visse lyk nie, ry ek voort werk toe. Sommer op die sypaaidjie. Die pad is nog te veel soos 'n rivier met bottels en borrels en kratte wat stroomaf spoel.
 En oral is dit net wit glimlagte in donker, winkel deure soos wat alle rasse 'n ersatz kameraderie teen die elemente geniet.
Maar doer waar ek oor die Msunduz rivier met die breë, maklike weg moes ry, moes ek toegee Hy het gewen en ek moes die smaller, hoer weg gaan soek. Sonder die umlaut ja.
Want dis die pad waar die tannies nes 'n spoedkamera werk. So flash-flashhh.
Want doer oor die Duzi was die breë, maklike weg diep genoeg onder water dat die diohidro-oksied bo oor my skoeter se vloerpan sou loop. En so waterdig is die Sjinese fiets ook nou nie.
Op daai hoerpad sien ek waffer hemelse voorhandhoue ek als gemis het, met wortels-in-lug bome wat karre laat ompaaie soek. Wyl die skoetertjie sommer deur woerts om my ongeskonde by die werk te kry, oor berge en deur dale en desondanks die wolkbreuk, mini-orkaan en paaie soos riviere.
Weliswaar sopnat, sodat ek nou na 'n paar uur agter die sleutelbord behoorlik leeukoud is.
Kon nou-nou nie eers iets kry om mee te piepie nie.
Maar so nederig dankbaar is ek vir die oorlewing en als, la'k lus het en maak vir my so 'n baaikers-baadjie met hun oopvlerk-eekill agter op en "born to buzz" in net sikke oranje letters genaai.