Search This Blog

Wednesday, April 23, 2014

Werksmuile vir swaar myle


Tyd om die ou bakkie te vervang, wonder wat sal
hy op inruil kry.
Met bakkiepryse wat in Mei gaan styg, het ons gaan soek na die meeste bakkie vir die minste geld – verkieslik ver onder R180,000.
Gou bleik dit toe moeilik te wees om holrug-geryde uitdrukkings te vermy om winskopie werksbakkies mee te beskryf.  Want in ’n verassende wending, terug op die plaas, staan een bakkie toe na al die wiele skop kop en skouers bo al die ander uit – en dit was nie die Hilux nie.
Dit was ook – net-net – nie een van die harde Mahindras nie, nog die billike JMC Boarding 2,8TD.
Die werksmuil wat gebou is om oor swaar myle die meeste vrag vir die minste rande te skuif, is die
Tata Xenon 3.0Fleetline, waaroor ons reeds hier berig het.
Ons het hom gas gegee én stadig gery, en meen in die Xenon het die eienaars van Jaguar en Land Rover uiteindelik ’n bakkie gebou wat saam met die Hilux en KB250 bulte kan uitluier en enige van die Sjinese bakkies in die stof sal los.

Die meeste krag vir die minste geld in 'n bakkie in SA.
Meer krag, minder toere
Die Isuzu het lankal boere se vetroue.
Vir enige stadsjape wat nog meen die Nissan Navara se 550 Nm brute krag sal lekker boer, nee boet.
Die toets vir ’n plaasbakkie is om na-nag, wanneer daai druppel dou vinnig verdof in die winter kou, op luierspoed met jou kop by die venster uit na ’n weggooi lam se geblêr te luister.
Sulke tye wil jy nie sukkel met turbo-studrumpels wat jou noop om die koppelaar te gly om ’n bult uit weg te trek nie. Jy wil dadelik al die Newtons teen lae toere kry om sonder wieltol oor modderpaaie te kruie; en ’n sterk koppelaar wat swaar vragte kan sleep.
Die Hilux en Isuzu KB250 het lankal boere se vetroue met die twee vereistes gewen. Maar die twee Japanese is intussen stilweg deur die Indïers onttroon. Met sy standaard beperkde glip ewenaar kan selfs die 2011 Xenon kon bult-op verby die Hilux en KB250 luier, en in plaas van die karige 182 Nm uit vandag se intree Hilux, gee die nuutste Xenon 3,0 enjin 300 Nm vanaf 1,800 toere.
Teen sy huidige prys van rofweg R155k vra die Xenon nou ook die minste rande vir elk van sy 300 Newtons, in vergeleke met byvoorbeeld die amper kwartmiljoen-rand se Foton Tunland se 280 Nm. Mahindra kom die naaste aan die Xenon se krag aanbod, met die Bolero 2.5 TDI wat 238 Nm vir R135k lewer; en die R162k Scorpio se 2,2 mHawk turbo diesel wat 258 Newtons opwek, albei teen 1,800 toere.

Binneruim
Beide die Tata en Mahindra bakkies se inkleding is so goed soos wat mens in die prysklas verwag – harde plastieke wat maklik krapmerke sal wys; gapings wat nie oral ewe breed is nie; en goedkoop na-mark radios indien enige, maar die kajuit is darem ook sowat R30,000 goedkoper as die naaste Japanees s’n, welke Mitsibushi Triton 2,4 GL tans vir net onder R180k verkoop.
Die Xenon en die Bolero is ewe ruim met hoë sitplekke, maar het net twee bekerhouers voor die ratkierie en min tot niks plek vir sleutels en fone. Hierteenoor het die Scorpio se kajuit ’n dosyn holtes in allerhande groottes – selfs so ’n plattetjie waarin ’n kleinerige slimfoon kan regop staan, maar die wa kos ook sowat R7,000 meer as die Xenon.

Laaivrag
Werksbakkies moet vrag dra en die Xenon wen hier met ’n rifrug se gewig –  die Tata dra amptelik 45kg meer loonvrag as die Mahindras. Meeste boere stel egter meer belang in die laaibak se lengte en diepte. Die Bolero het die langste laaibak – 2,2 meter teenoor die Xenon se 1,8 meter; en is ook meer as ’n halwe meter diep (55,4 cm) teenoor die Xenon se 40 cm.  Albei is korter as die Foton Tunland, wat 2,3 meter lank is, maar die groot Sjinees dra net 930 kg.

Rugsteun en onderhoud
Die Xenon word vir 3 jaar of  100,000 km gewaarborg, ’n jaar langer of dubbel so ver as die Mahindra. Soos al die bakkies in SA (behalwe die Ford/Mazda en Amarok) het die Xenon ’n belt in plaas van ‘n tydketting. Net die Navara vra meer vir dié ketting, maar die Xenon se totale tipiese mandjie onderdele is die goedkoopste, aldus die 2013 Malcolm Kinsey verslag. Die verslag wys die mededingers vra van duisende (Steed) tot tienduisende rande meer (Hilux en Isuzu) as die Xenon.

Pryse
Teen druktyd was nuwe pryse en gevolglike spesiale aanbiedinge op die Indiese bakkies nog nie beskikbaar nie, maar die Bolero Loader verkoop tipies vir R20,000 minder as die Xenon, terwyl die Scorpio sowat R7,000 meer kos. Die Mahindras is nou al landwyd bewys, maar die Xenon sukkel nog om die klaaglike Telcoline se reputasie af te skud. Ouens in die mark vir ’n werksmuil kan egter al drie bakkies maklik genoeg self gaan toetsbestuur, want hulle word dikwels deur dieselfde handelaars verkoop. (Daar is tans 56 Mahindra teenoor 49 Tata verkopers in suider Afrika.)
Die Scorpio se binnekant het 'n dosyn pakplekkies.

Top tien sterkste bakkies onder R200k*
Nm
Tata Xenon 3,0 Fleetline
300
Foton Tunland 2,8 Comfort
280
Mahindra Scorpio Pick-up 2,5 TCI Loader
258
Mahindra Bolero Loader
238
JMC Boarding 2,8TD
235
Mazda BT-50 2,5 SL
225
Mitsubishi Triton 2,4 GL
202
Nissan Hardbody NP300 2,0
196
GWM Steed 2,2 L Workhorse
190
Toyota Hilux 2,0
182
*Prysverhogings word in Mei verwag

Die Tata Xenon kort 'n paar pakplekkies vir bekers.

Tien enkelkajuit werksmuile
Pryse*
Mahindra Bolero Loader
R 135k
Tata Xenon 3,0 Fleetline
R 155k
JMC Boarding 2,8TD
R 156k
Mahindra Scorpio Pick-up 2,5 Loader
R 162k
GWM Steed 2,2 L Workhorse
R 165k
Mitsubishi Triton 2,4 GL
R 180k
Nissan Hardbody NP300 2,0
R 190k
Toyota Hilux 2,0
R 196k
Mazda BT-50 2,5 SL
R 196k
Isuzu KB250
R 204k