Search This Blog

Wednesday, May 28, 2014

Drie vrae om beste paneelwa te kies

Louise Finlay in her own green machine
Vir Europese boere het Afrikaners vreemde vervoer gewoontes. Danksy hul goeie paaie, kort afstande en baie reën sien jy nie sommer ’n bakkie in die Europese platteland nie. Boere en vakmanne daar vervoer als, van koolkoppe tot motorfietse, in ’n paneelwa.
Hans ten Hage, ’n Nederlandse klank-inginieur wat gereeld in Suid-Afrika kom son soek, vertel veral die spaarsamige Hollanders kan net kopskud oor hoe ons dubbelkajuitbakkies vir ’n besigheid kies om die ego, eerder as die sak, te streel.

Met die top-verkoper Toyota Quantum aan die een kant, die relatief nuwe Nissan NV200 in die middel en die sakpas Chev 1,2 Spark Pronto aan die ander kant, bied Suid-Afrika egter meer as 20 klein en middelslag paneelwaens vir die sakpas koper. Om soos ’n Europeër die regte paneelwa vir jou werk uit die lot te kies, vra jouself drie vrae: hoe groot is die handelaarsnetwerk; soek jy krag vir swaar vrag; of ekonomie vir klein volumes; en wil jy in drie jaar verkoop, of die wa opgebruik?
Hoe naby is die handelaar?
David Hadebe trusts Quantums
Met nagenoeg 200 handelaars regoor die land kom enige Toyota met die meeste steun. Daarom vertel David Hadebe van die Ceiling Wizard die Quantum is al wa wat hy ken en vertrou, of dit nou vir werkswiele of in ’n taxi is. In dorpe met Hyundai handelaars staan H1 paneelwa egter niks terug vir die Quantum nie, en die Koreaan is amper R20k goedkoper.
Vir besighede wat nie baie spasie nodig het nie, is Nissan se NV200 die wa om te kies. In bakkie formaat as die NP200 al amper vyf jaar hier bewys, maar die paneelwa is nog relatief nuut in SA. Oorsee word die NV200 egter geag van York, VK; tot New York, VSA.
In die VK was die NV200 in 2010 aangewys as beide die beste klein en ook die beste algemene paneelwa. New York het laasjaar begin om met 13,000 NV200 bussies die Groot Appel se ou, geel sedan taxis te vervang. Vir die kontrak het die Japanese wa Amerika se eie Ford Transit uitgestof, desondanks unies se besware dat die NV200 nie Amerikaans genoeg is nie.
Een vrou wat geen oortuiging oor die NV200 se vermoëns nodig nie, is Louis Finlay, wie daagliks meer as 200 km in haar wa ry om die waks-gebaseerde skoonmaak stelsels van Green Machine te verskaf. Toe ons haar ontmoet het, het die ritrekenaar ’n goeie 8,6 l/100km gewys, maar Finlay sê wat haar die meeste beïndruk is hoe stil die wa loop.
Vir swaar vragte
Vir besighede wat swaarder vragte bult uit moet dra is die Quantum se 241 Nm en die NV200 se 153 Nm stellig te min, hierteenoor gee Volkswagen se T5 Transporter 400 Nm. Die ruim Transporter kan boonop met VW se 4Motion bestel word om modder of sandpaaie te ry, maar dan sal die wa ook net onder ’n halfmiljoen rand kos. Vir swaar vragte het Citroën ‘n paar opsies, met die Dispatch Hdi 120, wat 330 Nm lewer. Angie Moloi, stigter van die Johannesburg/Oranje Vrystaat Langafstand Taxi Assosiasie (Jofeldta) het onlang vier Citroën Relays gekoop. Die kleinste 15-sitplek Relay kos net onder R316,000, teenoor die 14 sitplek Quantum wat amper R405k kos.
By monde van Dana Mienie in Johannesburg het ons ook al berig dat ’n tweedehandse Mercedes-Benz Vito nouliks geklop kan word wat waarde vir geld betref. Nou voeg begrafnisondernemer Mlungusi Gumede by dat hy sy Vito 15 CDI gebruik om vier doodskiste of ses roubeklaers te vervoer, en na hy die wa volgende maand afbetaal het gaan hy ’n tweede Vito koop.

Vir klein vragte
Entrepreneurs wat klein vragte aflewer vra dikwels of die FAW se Sirius 1.3 en Fiat se Qubo 1.4 vertrou kan word. Beide waens is uitstekend, maar hulle klein handelaarsnetwerke kortwiek verkope. Hierteenoor beloof die Chevrolet Spark Pronto teen net onder R109k om die minste petrol te drink en die meeste werkswinkels te bied.
Mense wat net in die dorp pendel en ’n DFSK handelaar naby het, kan gerus ook dese rare Sjinese waentjie beproef. Vir minder as R93k bied die kanniedood 1.3 enjins 103 Nm en alhoewel die bakwerk geneig is om gou roeskolle naby die kus te wys, is meeste Sjinese eienaars in hul noppies met die winskopie wiele én die pryse wat groepe soos Midas op onderdele bied.

Herverkoopswaardes

Brian Stokes, munisipale vlootbestuurder in eThekwini, het aan Burger vertel hy verkies om Toyota bakkies en lorries aan te koop, omdat hul herverkoopswaardes tot 19% hoër as enige ander modelle s’n is. Neem in ag Durban se kerrie-eters is selfs suiniger as ons snoekkopsopmakers in die Kaap en as hulle bereid is om daar meer te betaal, moet daar ’n goeie rede wees. Stokes vertel die geheim is Toyota se laer onderhoudskostes oor die lewensduur van die voertuig. As dit by dienste kom, waarsku die samesteller van die Suid-Afrikaanse parte lys, Malcolm Kinsey, egter dat handelaars nie aan voorgestelde kleinhandelpryse gebind is nie. “Ons het een handelsmerk gevind wat amper 10% meer in Durban en 20% meer in Kaapstad vir dieselfde onderdeel gevra het as in Johannesburg!” 
Commissioned for Die Burger