Search This Blog

Tuesday, May 26, 2026

Die Koolkop Prinses en mense se harte

Sien jy die lig aan die einde van die goue pad deur die vreemde woud? 
Kopiereg
Eendag, lank lank gelede, was daar 'n koolkop wat 'n storie gehoor het. Sy was 'n prinses koolkop, soos mens kon sien met die pers sap in haar phloeme. Die storie wat sy gehoor het, was oor die olifante wat in erdwurms wegkruip.

Wat gebeur het, sien, was lat die Skepper per ongeluk van tevredegeit gesug het, net presies toe die Skepper die laaste fraiings grys klei tussen die hanne so van mekaar af gevryf het. Die Skepper was vol van tevredegeit want behalwe vir die laaste grys fraiings in die Skepper se palms se plooie, is al die grys klei in 'n lielike, groot, grys diere omskep. 

Die Skepper had eers bietjie rond gespeel met walvisse, toe raak die Skepper lekker laf met seekoeie, en somber met renosters, maar die olifante, het die Skepper gemeen, was die beste groot grys diere van hulle almal. Daai olifanteklei was dan ook die laaste vleksels grys klei wat die Skepper so tussen sy palms in fraiings gerol het.

En daai was die probleem sien, want toe die Skepper se asem so oor hulle spoel (met flitsende feetjie liggies en lang bloedrooi donderstrale -- die Skepper se asem werk mos anders as ons sinne), toe daai kwaai asem so oor hulle waai, word daai klein stukkies olifant lewendig!

Pasop vir olifante, die bulle raak gou kwaai.
Kopiereg
Hulle wou dadelik trompetter lat dit so oor die hele veld eggo; en namens hulle groot vriend, die Savanna grasveld, bome omstoot; en hulle groot sawwe voete lekker diep kielie met lang subsoniese golwe wat halfpad om die aarde kan gaan; en leeuwens van die kallers af wegjaag met flappende ore... 

Maar hulle was net piepklein fraiing stukkies grys klei. 

Daai eerste klein fraiings grys klei het hulself so half orent op die Skepper se palm opgebeur en in fyn stemmetjie gepleit, 'maak ons heel, maak ons heel'.

Maar die Skepper had slegte nuus. Op die hele Aarde was daar nêrens niks grys klei te kry om hulle klein lyfies in logge olifante te omskep nie. 

Maar kom ek maak julle 'n deal, het die Skepper vir die klein fraiings olifantjies gesê. Ek sal julle in die tuin sit, en dan tonnel julle oral rond en as julle enige grys klei kry, maak ek julle olifant-lywe klaar.

Van daai dag af stoot die blinde klein erdwurmpies elke aand 'n klein hopie klei bo die grond uit en vra vir die Skepper, 'Is die grys klei?'.

En hulle werk so hard om oor die hele aarde grys klei te soek, dat 'n slim oom Darwin erdwurms die Jirre se Ploegskare genoem het.

'n "Hoopie" klei deur 'n erdwurm opgestoot. 
Kopiereg
Die pers koolkop prinses was diep geraak deur die fraiings grys klei se storie en wou ook soos hulle wees -- nuttig, nie net 'n neuterige, peperige dis nie.

Nie dat sy neuterige peperige disse gedisrespekteer het nie. Dis net, om 'n koolkop te wees is so 'n kort, eenvoudige bestaan. Selfs al word jy sauerkraut of kimchi. Sy wou iets langer en belangriker met haar lewe doen as om mense gesond te hou.

Toe se die Skepper vir die koolkop prinses met haar pers phloeme, oukei, ek sê jou wat, jy sal mense se hart-toetser wees. As hulle jou oopsny en 'n lig aan die einde van 'n pad deur 'n vreemde woud sien, is hulle harte goet. As hulle egter Munch se "Die Skreeu" sien, moet hulle harte nog goed word.

...of lyk die koolkop heel bo meer soos die skildery van Edvard Munch vir jou? 
En van daai dag of tot nou, is pers koolkop prinsesse die litmus toets vir mense se harte.

En lyk my jy het joune geslaag.

En die fraiings grys klei? Wel, die erdwurms wat die regte soort klei kry, word bietjie grooter gemaak. Soos die dik pers erdwurms in KwaZulu-Natal. Of die groenes in die Karoo. Of die ellelanges in Doer Onder.

Danie Craven with giant Karoo earthworms near Steytlerville.
Source