Search This Blog

Wednesday, June 19, 2013

Vir die vinniger pa



Die eerste RS Audi in SA was ‘n stasiewa, maar die rooi Avant se hantering en versnelling het in 1994 elke rooibloed pa laat regop sit.

BMW wys met ’n “M” watter van hul motors vinniger as ander is. Merc waarsku met “AMG” dis nie ’n kar vir kerk toe gaan nie. Op ‘n Audi vertel die letter R dat als, van die dempers tot die kleppe, vir verrigting ingestel is.
In vergeleke met die lang geskiedenis van die ander twee Duitsers is Audi die nuweling in die vinniger-maak arena. Audi het eers in 1983 begin om verrigtingsmodelle gebou. Eie aan Audi se aard was die eerste RS model in SA dan ook nie ’n twee-deur afslaankap of gestroopde vierdeur ren-sedan nie, maar ’n stasiewa. So ’n bloue.

Daai boksvormige, lang RS Avant het 1994 nie die mededingers skrikgemaak nie. Maar die hantering en versnelling van die Porsche vyf-sillinder enjin en destyds se torsen-stelsel het elke rooibloed pa laat regop sit.
Sederdien het niks verander, en het die drie middeljarige petrolkoppe op die wêreld se mees-gekykte, feitelik televisie program, “Top Gear”, onlangs weer vertel as jy ‘n kragtige motor vir alledaagse gebruik soek, kies ’n Audi met ’n R op die stert. Die vering en hantering van die ander twee Duitsers se verrigtinsmodelle is eerder vir renbane bedoel.
Tydens die bekendstelling van Audi se RS5 afslaankap het produk bemarker Sameerah Bhabha vertel dat daar binnekort sewe RS-modelle in SA te koop sal wees. “In die laaste kwartaal van 2013 beplan Audi Suid-Afrika om die RS 7 Sportback en die RS Q3 bekend te stel, wat die aantal RS-modelle op sewe  te staan sal bring,” vertel Bhabha. Hierteenoor bied Mercedes-Benz 17 AMG modelle en BMW agt M modelle. Audi se verkoopsyfers vir die R motors is egter meer as drie keer minder as die twee mededingers s’n, wat meen Audi bestuurders kan drie keer meer ekslusief voel. 
Bhabha vertel dat ’n konstante 700 Nm vanaf  1,750 rpm die RS7 sportpack in onder vier sekondes van 0-100 km/h laat versnel, terwyl die  RS Q3 sportnuts met die spaarsamige 2.5-liter, 5-sillinder turbo enjin aangedryf sal word. Die enjin was al drie keer internasionale enjin van die jaar en Audi maak aanspraak op ’n verbruik van 8.8 l/100 km (11 km/l).
Audi R-modelle
RS4 Avant: R 893,000
RS5 koepee: R 926,000
RS5 afslaankap: R986,000
Audi TT RS koepee: R 748,000
Audi TT RS Roadster: R 783,500
Bostaande pryse sluit in all belastings en ’n standaard 5-jaar/100 000km Audi Freeway Plan.