Search This Blog

Wednesday, June 19, 2013

Want Orries stoot én trek

The Audi R8 at Dezzi Gutzeit's race track near Port Shepstone, KZN.

Dis toe vrek maklik om ’n Audi quattro amper so vinnig soos SuperVan om draaie te jaag, solank jy net die drie stappe onthou: stop, trap, en hou dan vas!
Die gestop maak nie sin nie, maar dit werk, soos ek in ’n Audi RS5 afslaankap op Desmond Gutzeit se baan in Port Shepstone gaan leer het. As hy nie geel masjiene bou om berge te skuif nie, jaag Gutzeit graag sy Nissan GTR karre om die baan se veegdraaie.
Ek meen daai draaie was een aand na baie brandewyn in die stikdonkerte geskraap. Want een kant het ’n blinde hoogte met ’n neëntig-grade draai na regs wat dan aanhou toemaak. Die ander kant eindig in ’n 360-grade draai met ’n 20-meter afgrond vir ’n sypaadjie. Onthou jy daai grappie van Tiger Woods, sy kar en die pennetjies waarop sy golfballe rus? Wel, manne wat by Dezzi se baan jaag, gebruik nie golfbal pennetjies nie, maar Buckey broeimasjiene. Volstruiseiers pas gemaklik in Buckey broeimasjiene.
Geen gewone pee-aar sal sommer ’n motorskrywer in Audi se peperduur RS verrigtingsmodelle om dié baan vertrou nie, maar Rudi Venter, produkbemarker by Audi, ly self aan erge petrolkopkoors en hy weet mos sy “orries” is veilig in amper enige hande. Want soos Sarel van der Merwe (en alter ego SuperVan) oor die quattros kla, die vierwielstelsel bied eintlik te veel greep.
In sy biografie “SuperVan and I”, vertel van der Merwe hoe Audi se ingenieurs in 1981 geslaag het om ’n vierwielgedrewe gesinsmotor vir tydrenne aan te pas. Die quattros het dadelik als gewen en om by te bly moes al die ander spanne hulle motors ook met al vier wiele begin aandryf. Die Audi quattro “was net te goed”, skryf SuperVan. In ander karre moes hy heeltyd met die naald in die rooi ry om vinnig te wees. “Met die Audi het alles soort van net vanself gebeur.”
Met my eerste harde lopie oor daai blinde hoogte draai moes ek dié waarheid egter nog leer glo. In voorwielgedrewe luikruggies het ek geleer “remme verloor renne” en in beemers hoe om selfs meer spoed in die draai in te dra en dan met ’n stertswaai die hoek reguit te maak. Nie in ’n RS5 quattro nie. In ’n skerp draai ploeg die swaar motor eenvoudig reguit aan. “Die kar stoot én trek, jy gaan net stuurtraagheid kry as jy soos in ’n BMW poog ry. Jy moet op die remme klim en dan op die draaipunt vet gee. Die kar het genoeg krag om jou dan vinniger as enige agterwielgedrewe kar uit te dra,” verduidelik  Audi renjaer Gennaro Bonafede.
“Stop en trap, stop en trap” prewel ek toe in my tweede lopie oppad na daai blinde hoogte. Liewe hemel! Die RS5 klim toe in daai draai soos ‘n satyn pantie tussen ’n stel mooi boude in. Volgende vat ek toe die R8 – Audi se “baba-Lambo”. Om die draai voel die ligter sportmotor se versnelling soos wat dit lyk as ’n slanke duim einste lappie satyn weer vinnig uitwikkel. Ek sukkel regtig nog steeds om die slap glimlag van my gesig af te kry.
Die TT RS saam met die  R8 op Dezzi se baan.
Die RS5 cabriolet se pryse begin op R970,500, die R8 op R1,520,000. Vir meer detail oor krag en so, kyk gerus die fliekie wat ons oor die dag se jaag op Youtube onder die soekwoorde “Audi RS5 Dezzi” gesit het. (Ry-indrukke tydens gebordge dag ingesamel.)