Search This Blog

Monday, January 6, 2014

How we will make cars in the future

Graphic designed by Graphics24 to accompany an article in The Witness.

Transcript of Wheels show as aired in Afrikaans on Radio Overberg 98.4 fm

Host Gideon Joubert: Ons gesels met ons trokdrywerskrywer Alwyn Viljoen.
Alwyn, jy't laasjaar al op die einste radio stasie voorspel ons gaan vanjaar meer as R14 'n liter brandstof betaal en nou waarsku die AA daai vreeslike prys word maand-eind 'n realiteit.
So dit lyk my jy maak bietjie uit van die teeblare lees as dit by karre kom...

GJ 1. ...wat sê jou kristalbal oor toekomskarre - gaan ons motors binnekort kan vlieg?
Alwyn Viljoen: Nee, daar is tans twee Amerikaanse maatskappye wat laasjaar onder andere by Oskosh, die groot Amerikaanse vleigtuigskou, 'n vliegkar gedemo het, maar sulke karre is al van die jare sewentig af net 'n foefie. 
Soos wat brandstof se prys klim gaan ons eerder OF meer bus ry, OF al hoe kleiner enjins ry, net soos ons oupas in Europe in die depressie met die skoeter-enjin BMW Isetta gedoen het.

GJ 2. Wat van elektriese karre, Nissan verkoop mos nou hulle vol-elektriese Leaf en Toyota daai half-elektriese Prius en BMW voer aanstons hulle elektriese 1reeks in?
AV: Ek self pendel in die dorp op 'n elektriese skoeter en al is dit lekker om nooit petrol in te gooi nie, moet ek waarsku enige elektriese voertuig is nog blerrie duur en die battery vat mens nie ver nie. Daai Leaf kos amper halfmiljoen, en dit vir 'n Nissan luikrug!? 
Mens hoef egter nie 'n profeet te wees om te sien wat reeds werk nie - reuse myn lorries en treine is dekades al diesel-elektries met 'n sterk elektriese motor op elke wiel, en met ons boere wat so goed planne maak, verwag ek baie meer modelle of met biodiesel sal ry, of met 'n mengsel van toestelle wat die batterye sal kan laai, van klein metaangas generatortjies tot sonpanele.

GJ 3. Jy sê 'n elektriese motor op elke wiel - is dit daai wiele met die enjin en vere en dempers als binne die rim ingedruk?
AV: Einste. Die Engelse noem hulle hub motors, en ek wonder hoeveel luisteraars weet hubmotors is eerste in agtien ag-en-veertig deur Ferdinand Porsce gebou? Vandag se hub motors skop maklik 1000 Newton meters uit - dis so sterk soos groot lorrie enjins - Mithcellin en Protean is twee groepe wat hulle hub motors al op van groot Amerikaanse bakkies tot spogmotors getoets het.

GJ 4. Maar hoe groot is die hubmotors dan as hulle so sterk soos lorrie enjins is?
AV: Hulle pas in enige 18 duim velling. Jy kan 'n hele aandryfstelsel in 'n boks pos. Dis hoekom ek meen die hubmotors gaan nog baie van gesien word. Mens kan hulle ver op die hoeke monteer vir die beste hantering en in die kajuit hoef mens niks spasie te mors om ratkaste en dryfaste en skokdempers in te pas nie. Gordon Murray en Yamaha het in die laaste Tokyo motorskou gewys hoe mens 'n kar met die nuwe reëls kan bou.

GJ 5. Gordon Murray - hys mos die ou van Durban af wat die F1 McLaren gebou het?
AV: Dis hy daai - maar hy bou lankal nie meer F1 karre nie. Voor die 2009 resessie het hy sy droom aangekondig om so veel as moontlik kar met so min as moontlik materiaal te bou. Hy doen dit deur dieselfde tegnieke te gebruik as waarmee resieskarre gebou word. 
Murray het in November laasjaar saam met Yamaha so 'n kar gebou. Yamaha noem dit die Motiv, en dit lyk soos 'n Smart karretjie wat om 'n rolraam gebou is.

GJ: 6. So hoe lyk jou toekomskar - hubmotors op die hoeke, 'n rolraam met twee sitplekke in die middel en 'n klein generatortjie om die batterye te laai?
AV: Jy het dit in 'n neutedop opgesom - maar ek wil byvoeg dat die toekomskar soos enige van jou wildste drome sal kan lyk. Die rolraam maak goeters soos lugsakke onnodig en stel mens in staat om enige tipe vorm daarop vas te bout - dis trouens hoe al die Dakar karre gebou word. 
Jy kan net 'n sinkplaat op die rolraam vasbout om die som van jou af te hou, of soos een New Zeelander maak en 3D panele druk om 'n presiese replika van 'n Aston Martin te ry. En beste van als, die toekomskar sal homself kan bestuur.

GJ 7. Hoe lank moet ons wag voor jou toekomskar op ons paaie is?
AV: Al die goeters waarvan ons gepraat het, hubmotors, rolraamkontruksie, diesel-hibriedes, 3-D gedrukte onderdele en karre wat hulself bestuur, ry al klaar op paaie. Behalwe vir selfbestuur navigasieprogramme kan al die onderdele reeds van die rak af bestel word en 'n handige man kan sy eie, unieke motor bou. 
So... ek meen ons gaan sulke karre teen 2020 in plaaslike renne sien en dan is daar twee groot menslike instinkte - sosiologiese dryfvere as jy wil - wat sal maak dat die verkoop van unieke, klant-bestelde motors sal gedy.
Maar ons handelaars gaan eers 'n kopskuif moet maak en mechanics aanstel wat letterlik weer karre aanmekaar kan sweis om aan die nuwe aanvraag vir unieke, "customised" karre te voldoen.


GJ 8. Sosiologiese dryfvere huh - dis woorde wat jy net hier op Radio Overberg in 'n motorprogram sal hoor - ons tyd is egter op, maar volgende week gesels ons verseker met ons belese, berese trokdrywerskrywer Alwyn Viljoen oor hierdie instinkte wat mens laat karre koop
AV: (Lag) Ek sien uit daarna, dankie vir al die ore wat ingeskakel is, tot wederom.