Search This Blog

Tuesday, September 16, 2014

''Springbok'' trucker to Sweden

Reggie Naidoo
Suid-Afrika se “Springbok trok bestuurder”, Reggie Naidoo van KwaZulu-Natal, ding die naweek (Vrydag 19 Sept) in die “wêreld finaal” teen 22 van die wêreld se beste bestuurders mee in die Volvo Brandstof Uitdaging.
Die 37-jaar-oue bestuurder van die KZN bosveld sal die naweek in Volvo se tuisdorp, Gothenburg in Swede, teen onder andere Russiese, Poolse, Amerikaanse en Engelse bestuurders meeding. Elkeen van hulle is die room van die room, nadat hulle 11 000 ander bestuurders uitgestof het.

Naidoo het in die SA-been van die uitdaging die minste diesel tussen Johannesburg en Durban gebruik, met Tshepo Leshope van Willowton Logistics tweede en Willem Briedenham van Leon van Vuuren Bulk Logistics derde.
Naidoo sê sy lae dieseldors is te danke daaraan dat hy altyd probeer voorspel wat die verkeer volgende gaan doen en dan hou hy by ’n gemiddelde spoed. “Slegte bestuurders rem, goeie bestuuders beplan,” het Naidoo gesê.
In Gothenburg sal Naidoo ’n gelaaide Volvo FH lorrie so gladweg as moontlik om ’n 6,9 km toetsbaan moet stuur. Hy sal ’n steil bult moet uitry, ’n vier-rigting stop moet kruis, die hoogste rat moet hak oor ’n reguit stuk en dan stop om ’n  u-draai te maak om oor agter paaie die vrag nie te laat skud nie.
Behalwe vir die titel as “die wêreld se mees ekonomiese bestuurder” wen die bestuurder wat die meeste kilometers uit elke liter diesel kan melk ook twee kaartijes na die Volvo Seiljagvaart, of die Volvo Golf Ope in Sjina, of ’n paar aande in die Ys Hotel in Jukkasjärvi in Swede.
Naidoo wou nie kuikens tel nie, maar het beken as hy die uitdaging wen, sal hy graag sy vrou na een van die hawe stede wil vat waar die seiljagresies aandoen. Hy is nou al 14 jaar met Melanie getroud en hulle het twee seuns van 13 en nege. Naidoo “onthou soos gister” hoe hulle geskrik het toe die jongste vroeg gebore was. “Hy’t minder as ’n kilo geweeg en die doktors het hom nie ’n kans  gegee nie”.
Naidoo het gesê hy wou lorries bestuur vandat hy as laaitie ’n plakaat in sy kamer gehad het van die fliek, Over The Top, waarin Sylvester Stallone ’n trok bestuurder speel. “My hele familie is in transport en ek meen ek het diesel in my bloed,” het hy gesê.
Alhoewel hy die Suid-Afrikaanse uitklop in ’n nuwe Volvo FH lorrie gewen het, bestuur hy daagliks sy eie ERF 525 met ’n Cummins 350 enjin. Hy is stilweg trots op ’n gemiddelde verbruik van 2,3 km per liter op ’n tipiese afleweringsroete van 5 000 km tussen Durban, Kaapstad en Mpumalanga, ten spyte daarvan dat die ou ERF alreeds meer as 1,3 million km op het.
Naidoo het gesê daar is nie slegte lorries nie, net slegte bestuurders.
“Maatskappye moet meer investeer om ‘drywers’ in bestuurders te verander. Dit gaan my verstand te bowe hoe mense onopgeleide drywers in beheer kan sit van toerusting wat miljoene  kos,” het hy gesê.
Oor die vreugdes – al dan nie – van eienaar-bestuurder wees, het Naidoo gesê “dit is soos om in die duiwel se kieliebak te werk”.
Hy vermy vragte wat diewe teiken en laai ironies genoeg meestal Sweedse staal of graniet blokke.
“Daar is egter vir my geen ander lewe as om my eie lorrie te ry nie. Maar om ’n lewe hieruit te maak – wel, jy moet reg ry en die regte vragte hê.”
Hy is baie trots oor hoe sy lorrie in die noorde van KZN se steil bosveld-bulte vaar. “Hierdie is die taaiste terrein denkbaar. Dink steil berge met klippe vir paaie. Ons kan daai “Ice Truckers” ’n paar dinge leer.”